1 Godspraak oor Moab. Waarlik, in die nag is Ar-Moab verwoes, vernietig! Waarlik, in die nag is Kir-Moab verwoes, vernietig!
2 Hulle gaan op na die tempel, en Dibon na die hoogtes om te ween; Moab huil op Nebo en in Medéba; op al hulle hoofde is ‘n kaalte, elke baard is afgeskeer.
3 Op hul strate het hulle rouklere aangegord; op hulle dakke en op hulle pleine huil alles en smelt weg in geween.
4 Hesbon en Eleále skreeu, hulle stem word gehoor tot Jahas toe; daarom hef die gewapende manne van Moab ‘n angsgeskreeu aan, sy siel sidder.
5 My hart skreeu oor Moab, sy vlugtelinge kom tot by Soar, Eglat-Selisia. Want die hoogte van Luhit beklim hulle met geween; ja, op pad na Horonáim laat hulle ‘n geskreeu van verwoesting weerklink;
6 want die waters van Nimrim word ‘n woesteny, ja, die gras is verdor, die grasspruitjies het vergaan, daar is geen groenigheid nie.
7 Daarom gaan hulle die oorwins wat hulle gemaak het, en hulle voorraad, oor die Wilgerspruit dra.
8 Want die geskreeu gaan rond in die grondgebied van Moab, sy gehuil tot by Eglaim en sy gehuil tot by Beër-Elim.
9 Want die waters van Dimon is vol bloed; want Ek sal oor Dimon nog meer bring, ‘n leeu oor dié van Moab wat ontvlug het, en oor die oorblyfsel van die land.