1 En Hy het vir my gesê: Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek.
2 En die Gees het in my gekom sodra Hy met my gespreek het, en my op my voete laat staan; en ek het Hom gehoor wat met my gespreek het.
3 Hy sê toe vir my: Mensekind, Ek stuur jou na die kinders van Israel, na die opstandige nasies wat teen My opgestaan het; hulle en hul vaders het teen My oortree tot hierdie selfde dag toe.
4 En die kinders is hard van aangesig en verstok van hart. Ek stuur jou na hulle, en jy moet vir hulle sê: So spreek die Here HERE!
5 Maar of hulle nou al luister of nie—want hulle is ‘n wederstrewige huis—hulle sal moet erken dat daar ‘n profeet in hulle midde gewees het.
6 En jy, mensekind, wees nie vir hulle of vir hulle woorde bevrees nie, omdat distels en dorings by jou is, en jy by skerpioene woon; wees nie bevrees vir hulle woorde en wees voor hulle aangesig nie verskrik nie, want hulle is ‘n wederstrewige huis.
7 Maar jy moet hulle my woorde verkondig, of hulle al luister of nie; want hulle is wederstrewig.
8 Maar jy, mensekind, luister na wat Ek jou sê; wees nie wederstrewig soos die wederstrewige huis nie; maak jou mond wyd oop, en eet wat Ek jou gee.
9 Toe kyk ek, en daar was ‘n hand na my toe uitgesteek, en daarin ‘n boekrol!
10 En Hy het dit voor my uitgesprei; en dit was beskrywe op die voor— en agterkant, en daarop was geskrywe klaagliedere en gesug en wee.